4 redes waarom kontant – nie kaarte nie – koning is

Donderdag, Maart 17th, 2016

Tinus Vollgraaff

 

 

Deesdae is die versoeking groot om jou debiet- of kredietkaart uit te pluk en jou pad na plesier oop te vee. Dit is, per slot van rekening, een van die grootste aanloklikhede van die moderne tyd.

Daarbenewens kan die dra van kontant in Suid-Afrika ʼn groot blok aan die been wees en om ʼn groot bedrag te dra lyk onprakties. In die eeu van plastiek, wie het in elk geval kontant nodig?

Daar is egter gebiedende redes – sielkundig en finansieel – om steeds van kontant gebruik te maak as ʼn metode van betaling. Die grootste een is om geld te spaar – iets waarin ons almal geïnteresseerd is.

 

  • Meer versigtige besteding

 

Studies toon dat verbruikers geneig is om versigtiger te bestee wanneer hulle dit met kontant moet doen in plaas van plastiek. Die rede hiervoor is dat dit tasbaar is en meer soos geld voel. “Wanneer jy die tasbare geld in jou hand hou en fisies kan voel hoe dit minder word elke keer as jy daarvan uitgee, sal jy meer waarskynlik oplet wanneer jy koop en versigtig te werk gaan, eerder as wanneer jy ʼn kaart gerieflik kan vee,” sê Elle Kaplan, HUB en stigtersvennoot van Lexion Capital Management in New York.

Finansiële beplanner Jana Davis stem volmondig saam: “Dit maak meer seer as plastiek, en daar is ʼn limiet op hoeveel jy in jou beursie het.” Sy verwys na ʼn studie deur MIT wat bevind het dat mense gewillig was om bykans 65% meer vir ʼn basketbalkaartjie te betaal wanneer ʼn kredietkaart eerder as kontant gebruik is.

Kaplan stel ʼn slegs-kontant-dieet voor vir kliënte wat hulle besteding moet beperk. Hulle moet Sondagaand R500 uit ʼn OTM onttrek en poog om dié geld vir die hele week te laat hou. “Die sinnelose R100-aankope stop nogal gou. Sodra jy daardie R500 bestee het, is jy klaar.”

 

  • Elimineer kaart- en ander fooie

 

Die vee van jou kaart is selde gratis en op die lang duur ook nie goedkoop nie. Banke word ryk deur jou aan te slaan vir die gebruik van jou plastiek. As jy op ʼn Saterdag inkopies doen, is dit baie makliker om die beraamde kontantbedrag te trek wat jy op dié dag gewillig is om te bestee as om verskeie kleiner transaksies met jou kaart aan te gaan. Dit sluit aan by die eerste wenk deurdat dit ook die aanvanklike bedrag beperk wat jy gewillig is om te bestee.

Om kontant vir iets te betaal beteken ook dat jy dadelik die volle bedrag betaal en nie in paaiemente wat aan rente onderhewig is nie – ʼn groter aansporing om die kredietkaart heeltemal af te sweer en met papier te betaal.

 

  • Kontant word oral aanvaar

 

Baie kleiner winkeltjies, boekwinkels en handelaars by opelugmarkte kan nie kaartmasjiene bekostig nie aangesien hulle verkope uit kleiner bedrae bestaan en die transaksiefooie hulle wins uitwis. Of jy nou by ʼn groot Pick n Pay of ʼn klein winkeltjie om die hoek koop, kontant is die taal wat almal praat.

Jy hoef ook nie te sukkel met kaartmasjiene wat dikwels van lyn af is en jou in die steek laat en kosbare tyd vermors nie.

 

  • Dis veiliger

 

Data-inbrake en tegnologiese diefstal het ʼn algemene verskynsel geword en die meer gesofistikeerde misdadigers weet dit is baie makliker om alle soorte data te onderskep eerder as om ʼn winkel te beroof. Met kontant word die risiko van klandestiene derde partye geëlimineer en jy handig bloot jou geld oor aan die teller en die transaksie is beklink.

 

Bronne:

 

Renzulli, K.A. 2015. “How to stick to a budget and spend less”. Time.com, http://time.com/money/4161115/stick-to-budget-spend-less/.

 

White, M.C. 2012. “When Cash Is King: 5 Situations in Which You Should Pay with Hard Currency”. Time.com, http://business.time.com/2012/09/10/5-times-you-should-always-pay-cash/.

 

Taylor, S.J. 2014. “The pros and cons of paying with cash”. US News and World Report, http://money.usnews.com/money/personal-finance/articles/2014/02/19/the-pros-and-cons-of-paying-with-cash.

 

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170