15 maniere hoe miljoenêrs geld bestuur om hulle ryker te maak

Vrydag, Junie 3rd, 2016

John Rampton

 

Dis g’n geheim dat miljoenêrs ander gewoontes, eienskappe en denkwyses as die gemiddelde persoon het nie. Daardie gewoontes is die opvallendste wanneer dit kom by hoe hulle hul geld bestuur. Hulle het ’n unieke manier van dink wat hulle eintlik help om nog meer geld te verdien deur verstandige finansiële besluite te neem, soos die volgende 15 maniere om hulle geld te bestuur:

 

  1. Hulle is nie impulsief nie

Hoeveel keer het jy al ’n impulsbesluit geneem in die kruidenierswinkel? Of wanneer jy op Amazon is? Dit is ’n algemene verskynsel dat die meeste mense ’n paar impulsiewe besluite neem wanneer hulle aankope doen. Miljoenêrs het egter die vermoë om bevrediging uit te stel en hulle van impulsiewe besluite te weerhou.

Hierdie stelling word gestaaf deur ’n beroemde studie wat dr Walter Mischel van Stanford in die 1960’s gedoen het. Mischel het vir voorskoolse kinders die keuse gegee om een malvalekker te eet wanneer hulle wil. Die ander opsie was om te wag totdat die volwassene weer in die kamer is. As hulle kon wag totdat die volwassene weer in die kamer is, sou hulle twee malvalekkers kry. Mischel het sy proefpersone deur die jare gevolg en ontdek dat die kinders wat kon wag om twee malvalekkers pleks van net een te kry, “laer verslawingskoerse, ’n laer egskeidingskoers en hoër SAT-tellings het”.

 

  1. Hulle ken die verskil tussen behoeftes en begeertes

Miljoenêrs ken ook die verskil tussen behoeftes en begeertes. Ons almal wil die een of ander tyd ’n nuwe huis, skoene, motor of kantoor hê. Maar is dit nodig? Of wil jy net daardie nuwe weeldemotor hê? Ja, dis ’n vinnige motor wat goed sal lyk in jou oprit. Maar dis nie ’n noodsaaklikheid nie. In plaas daarvan om geld te bestee aan goed wat nie prakties is nie, gebruik miljoenêrs daardie geld vir noodsaaklike items wat hulle rykdom steeds groter sal maak.

 

  1. Hulle fokus op die langtermyn

Soos Timothy Sykes, die stuiweraandeelmiljoenêr, in Entrepreneur sê: “Langtermyndoelwitte neem minstens een tot vyf jaar om verwesenlik te word. Langtermyndoelwitte is uitstekende motiveerders. Hulle stel jou in staat om verby die hede te kyk en in perspektief te plaas hoekom jy jou tyd vandag op ’n sekere manier bestee.”

Jou daaglikse take moet by jou langtermyndoelwitte aansluit, en as dit nie so is nie, moet jou doelwitte aangepas word. Die aanpassing kan wees om jou take in ‘n mate te verander, of dalk om nienoodsaaklike take uit te skakel of te verminder en take by te voeg waarby jy in die toekoms baat sal vind.

 

  1. Hulle kry verskeie bronne van inkomste

Nadat miljoenêrs ’n mate van finansiële sekuriteit verkry het, begin hulle ander maniere soek om geld in te bring. Hoekom? Omdat hulle besef dat hulle hoofbron van inkomste skielik kan opdroog. Om ’n moontlike verlies van inkomste te vermy, sal ’n miljoenêr verskeie bronne van inkomste kry wat kontantvloei voortbring as ’n rugsteunplan.

 

  1. Hulle outomatiseer beleggings

Daar is robotadviseurs en ander maniere om beleggings te outomatiseer, soos om ’n persentasie van jou salaris af te trek en in ’n e-kontantaftreerekening te plaas, maar miljoenêrs belê ook so dikwels dat dit ’n gewoonte word. Hulle weet hoe en wanneer om ’n geleentheid aan te gryp, en ook hoeveel om te belê, skynbaar sonder om ’n oog te knip. Maar hulle het hierdie beleggingstrategie al genoeg geoefen sodat hulle deeglike kennis het van hoe beleggings werk.

 

  1. Hulle volg ’n begroting

Deur ’n begroting te volg, kan miljoenêrs sien hoeveel geld inkom en hoeveel uitgaan. Dit stel hulle in staat om ’n bestedingsplan op te stel sodat hulle die noodsaaklikhede kan bekostig en verkwistende uitgawes uitskakel. Daar is ten minste een studie wat sê talle ryk mense het nie ’n begroting as sodanig nie, maar die heel rykes weet presies waar hulle geld bestee word en hou dit dop.

 

  1. Hulle is gereed vir noodgevalle

Miljoenêrs het ’n noodfonds beskikbaar. Hulle besef daar kan tye kom wanneer hulle ’n krisis sal beleef, soos om hulle werk te verloor of ’n onverwagte sterfte in die familie. Pleks van geld te leen, het hulle spaargeld om hulle aan die gang te hou totdat die krisis verby is. Baie rampe kan afgeweer word deur voorbereid te wees met ’n noodfonds. Ek self beveel aan dat jy 12 maande se kontant in die bank hou sodat jy gedek kan wees wanneer dinge skeef loop.

 

  1. Hulle belê net in wat hulle verstaan

Warren Buffett en die legendariese aandelebelegger Peter Lynch se advies is dat jy moet “belê in wat jy ken”. Dis ’n kunsie wat miljoenêrs gebruik, want as hulle weet hoe ‘n maatskappy inkomste en winsgewendheid oplewer, het hulle ’n mededingingsvoordeel. Hulle is bewus van die risiko’s en geleenthede.

 

  1. Hulle hou hulle uitgawes dop

Weet jy hoeveel geld jy aan jou uitgawes bestee? As jy nie weet nie, begin boek hou van jou daaglikse, maandelikse en jaarlikse uitgawes – soos die miljoenêrs maak. Jy sal gou besef dat jy geld verkwis op items wat nie nodig is nie of wat teen ‘n beter koers gekoop kan word.

 

  1. Hulle lewe binne hulle vermoë

Dis g’n geheim nie dat welgestelde individue óf onder óf binne hulle vermoë lewe. Byvoorbeeld, Warren Buffett woon steeds in sy huis in Omaha, Nebraska, wat hy in 1958 vir net $31 500 gekoop het. Dit is bekend dat Steve Ballmer, gewese hoof uitvoerende beampte van Microsoft, kommersiële vlugte gebruik het. Hoewel hulle ’n herehuis of privaat straler kon besit, het hulle besluit om hulle geld vir noodsaaklikhede te spaar en nie weelde-items te koop nie.

 

  1. Hulle is bereid om opofferings te maak

Wat maak dit saak as jy nog met ’n 2000-model Toyota Camry ry? Jy besef dat jy uiteindelik, waarskynlik binne die volgende twee jaar, ’n nuwe voertuig sal kan koop omdat jy die geld sal hê om dit te doen. Dis hoe miljoenêrs dink wat die bestuur van hulle geld betref. Hulle maak tydelike opofferings as dit die groter doelwit sal nader bring. Ek self was miljoene sterk en het tot ’n jaar gelede ’n 2006-model Hyundai Sonata gery wat na ’n ongeluk afgeskryf en toe herstel is. Maak vandag opofferings sodat jy more beter kan lewe.

 

  1. Hulle maak nie skuld nie

Miljoenêrs laat nie toe dat hulle in die skuld beland nie. Hulle leen nie geld nie en vermy die gebruik van kredietkaarte as hulle nie die geld het om die kaart af te betaal nie – tensy dit ’n belegging is om hulle besigheid te verbeter of ’n nuwe maatskappy te begin. Met ander woorde, as hulle dit nie het nie, sal hulle dit nie bestee nie. Hulle kom daarsonder klaar – eerder as om te bestee wat hulle nie het nie.

 

  1. Hulle kry finansiële advies

Miljoenêrs ken hulle sterk en swak punte. Pleks van tyd en geld te bestee om hulle swak punte reg te stel, vra hulle hulp – veral vir die bestuur van geld. Net omdat hulle ’n sosiale netwerk of ’n toestel gebou het, beteken nie dat hulle weet hoe om hulle geld te belê of te spaar nie. Hulle kry hulp by ’n finansiële adviseur of rekenmeester.

 

  1. Hulle voed hulself op

Formele onderwys is nie ’n voorvereiste vir miljoenêrs nie. Bill Gates, Mark Zuckerberg en Amancio Ortega het almal hulle fortuine verdien sonder om ’n universiteitsgraad te behaal. Tai Lopez is bekend daarvoor dat hy spog dat hy nie formele onderwys het nie, maar hy sal die eerste wees om vir jou te vertel oor selfopvoeding – Lopez lees ongeveer een boek per dag. Soos die meeste welgestelde individue het hierdie persone elkeen sy gespesialiseerde kennis gebruik en leer hulle steeds hoe om suksesvoller te word deur selfopvoeding.

 

  1. Hulle maak die somme voordat hulle besluit

Ek bedoel nie wiskundige vergelykings wat jy destyds in jou trigonometrieklas gedoen het nie. Net basiese optel, aftrek, vermenigvuldiging en deling voordat jy enige finansiële besluite neem. Byvoorbeeld, as jy ’n ouerige voertuig het wat herstelwerk nodig het, sal ’n miljoenêr die herstelkoste vergelyk met die koop van ‘n nuwe voertuig. Die besluit sal dan afhang van wat die kostedoeltreffendste is.

 

Bron: Entrepreneur

Ander Artikels

Kry só die beste agent as jy huis verkoop
Vir baie van ons gaan die verkoop van ’n eiendom gepaard met hoë vlakke van angstigheid en onheil. So, waar kry mens iemand wat jy kan vertrou om jou deur die gevare en slaggate van die verkoopstransaksie te stuur? Volgens die Rawson Eiendomme is daar ’n paar belangrike goed om na op te let.   […]
Inkopies kan terapeuties wees
Dit is al gesê dat om op ʼn inkopie-tog te gaan negatief konnotasies het. Onder andere word materialisme en selfbevrediging voorgehou as redes om nie te koop nie. Om te koop en loerkoop (“window-shopping”) kan egter terapeuties wees, help jou om verandering te hanteer en verbeter jou bui. Moenie inkopie-terapie sommer afmaak as iets ligsinnig […]
Ken jou regte as ʼn deeltiteleienaar
Om in ʼn deeltitelkompleks te bly, het baie voordele. Dit kan egter minder aangenaam wees om te bly in ʼn kompleks wat deur andere bestuur word, veral as die voorsitter van die regspersoon hom of haar verbeel dat hy of sy meer magte as enigeen van die ander inwoners het. Laat ons dit duidelik stel: […]
1 2 3 160