10 goue reëls vir persoonlike finansies wat almal moet ken

Woensdag, Februarie 15th, 2017

Kentin Waits

 

Ons leef in ʼn wêreld waar inligtingoorlading deel van die daaglikse lewe is, maar as dit by persoonlike finansiële inligting kom, is minder dalk beter. Put uit die eenvoudige waarhede wat jou gehelp het en die waarhede wat jy andere kan leer. Hier volg die 10 goue reëls oor persoonlike finansies wat almal moet ken.

  1. Stel ʼn doelwit

Sonder ʼn stel duidelike doelwitte is dit moeilik om te weet hoe persoonlike finansiële sukses lyk. Omskryf jou doelwitte en stel dan ʼn realistiese stap-vir-stap-plan op waarmee jy vorentoe gaan.

  1. Onderskei tussen wil hê en moet hê

Om begeertes met behoeftes te verwar, hou mense in ʼn voortdurende staat van finansiële onrus. Mens moet verstaan dat mense se behoeftes redelik eenvoudig is ─ kos, klere, skuiling, gesondheidsorg, betroubare vervoer, ens. Min of meer alles anders is begeertes. Dit beteken nie dat ons nie van tyd tot tyd aan ons begeertes mag toegee nie (die lewe sou maar vaal gewees het daarsonder). Dit beteken eenvoudig dat ons ons begeertes versigtig moet kies en nie ons finansiële sekuriteit deur ʼn voortdurende najaag daarvan in die gevaar moet stel nie.

  1. Leef binne jou inkomste

ʼn Streng begroting en leef binne jou inkomste (d.w.s. om nie meer uit te gee as wat jy verdien nie) bevry jou van die sieldodende siklus van werk, oorbestee, skuld afbetaal, en dan nogmaals werk. Om te leer om binne jou inkomste te leef, is op sigself ʼn prestasie, maar om onder jou inkomste te leef, is nog beter. As jy minder uitgee as wat jy verdien, laat dit jou met ʼn surplus ─ die essensiële kapitaal wat jou toekoms befonds.

  1. Begin vroeg spaar

Versover dit spaar betref, kan tyd jou beste vriend wees. Begin in jou vroeë 20’s spaar en nie net sal jy meer tyd hê om betekenisvolle rykdom bymekaar te maak nie (selfs met ʼn beskeie salaris), maar daar sal meer tyd wees vir saamgestelde rente om sy ding te doen.

  1. Betaal jouself eerste

Daar is baie redes om jouself eerste te betaal. Die belangrikste is miskien dat dit die kieselement uit die spaaraksie haal ─ selfs al is dit kunsmatig.

  1. Ken die verskil tussen bates en verpligtinge

Hier is ʼn maklike definisie: bates is goed wat jy besit wat waarde het. Jou kar, huis, spaarrekening en muntversameling is almal bates. Verpligtinge is wat jy skuld. Kredietkaartsaldo’s, studentelenings en karbriefies is almal verpligtinge. Die nie-so-geheime geheim tot sukses is om bates te versamel en verpligtinge te verminder.

 

7. Vermy verbruikerskuld

Moenie dat gladdemond kredietkaartsmouse jou verwar nie: jou kredietlimiet is nie jou spandeerlimiet nie. Vermy verbruikerskuld en die so-te-sê woekerrentekoerse wat daarmee gepaard gaan. Die stadige dreinering van rentebetalings, laatbetaalboetes en ander koste sal jou begroting stadig wurg en jou vooruitsigte op persoonlike finansiële sekuriteit.

8. Betaal eers skuld met die hoogste rentekoers

As jy nie verbruikerskuld kan vermy nie, wees strategies met hoe jy dit betaal. As jy hoërente-saldo’s eerste afbetaal, betaal jy met verloop van tyd minder.

 

9. Moenie belê in iets wat jy nie verstaan nie

Sukses met beleggings verg helder denke, dissipline en konsekwentheid met verloop van tyd. Kortpaaie en beleggings in uitermate ingewikkelde produkte wat jy nie verstaan nie, bedreig jou langtermyn-winste en kapitaal. Bly by wat jy ken, probeer elke dag meer leer en moenie skrik vir sikliese fluktuasies in die mark nie.

10. Wees voorbereid op die onverwagte

Spaar ses tot agt maande se netto inkomste in ʼn noodfonds. Dit is ʼn eenvoudige maar doeltreffende manier om werkverlies, onverwagte gesondheidsprobleme, onvoorsiene huishoudelike uitgawes en ander lewensgebeure wat jou gesin se neseier kan bedreig die hoof te bied.

O, en op die gevaar af van ʼn melankoliese eindnoot, onthou dat om vir die onverwagte voor te berei, ook behoorlike boedelbeplanning insluit. Om jou bates te beskerm en vir jou geliefdes voorsiening te maak, is ʼn goue reël van slim persoonlike finansies wat dikwels oor die hoof gesien word. As jy nog nie ʼn testament het nie, sit dit op jou moet-gedoen-word-lysie en doen dit!

 

Bron: Wisebread

Ander Artikels

Art. 11(a) van die Wet op Inkomstebelasting en die aftrekbaarheid van renteonkoste op huislenings
Louis Botha     Op 13 Desember 2016 het die belastinghof in Kaapstad uitspraak gelewer in X v The Commissioner for the South African Revenue Service (saak no. 13791 & 13792, nog nie gerapporteer nie). Die saak het gehandel oor ʼn interessante vraagstuk, naamlik of uitgawes wat aan ʼn huislening aangegaan word om ʼn rente-inkomste […]
Huurverbeteringe: Mag ek vat of moet ek los?
Vraag: “Ons huur nou al vir ʼn paar jaar ʼn huis. Ek en my vrou het heelwat verbeterings aan die huis en tuin aangebring. Ek word nou verplaas en moet verhuis, maar wonder nou wat word van al die verbeterings aan die huurperseel. Mag ons dit saamneem of moet die verhuurder ons vergoed daarvoor?”   […]
Die beste wenke om jou huurdeposito terug te kry
Huurders in Suid-Afrika betaal tans enigiets tussen een en drie maande se huur as skadedeposito ─ maar is dikwels onseker van wat om te doen as hul huurkontrak verval. “Hoewel deposito’s dikwels gebruik word om huurwanbetaling of onbetaalde utiliteitsrekenings te dek, is hul hoofdoel om verhuurders teen skade aan die eiendom te dek,” sê Andrew […]
1 2 3 170