BEL ONS: 012 644 4300
JOU GELD
Ons bied finansiële oplossings deur
waardegedrewe advies en uitnemende diens

Die inperkingstyd en jou finansies

Bitter min mense sou seker iets soos die koronavirus en die daaropvolgende inperking kon visualiseer. ’n Wêreld wat letterlik tot stilstand kom. Die storielyn klink soos ’n lokettreffer op die silwerdoekskerm. Aanvanklik klink dit amper soos ’n welverdiende Desember-vakansie wat einde Maart aanbreek. Mens verwag dat die rolprent enige oomblik tot ’n einde gaan kom of dat jy gaan wakker skrik en besef dit was genadiglik net ’n nare droom. Dan kom mens tot die besef – dis realiteit, dis ’n harde werklikheid, ’n ongenaakbare tydperk, ’n koue angsgevoel wat die hart omklem. Covid-19 het ons wêreld soos ons dit geken het, totaal kom verander. Die finansiële impak van die inperking op die ekonomie, besighede en huishoudings is astronomies. Boonop was die Suid-Afrikaanse ekonomie en baie huishoudings reeds onder geweldige druk voor Covid-19 toegeslaan het. Almal beleef geweldige finansiële druk. Dit is tyd om ernstig te besin oor ons finansies en seker te maak die basiese beginsels word sover moontlik gevolg en ons beskik oor al die nodige en betroubare inligting om die beste moontlike besluite te neem gedurende hierdie tyd.

Die inperkingstyd en jou finansies

Bitter min mense sou seker iets soos die koronavirus en die daaropvolgende inperking kon visualiseer. ’n Wêreld wat letterlik tot stilstand kom. Die storielyn klink soos ’n lokettreffer op die silwerdoekskerm. Aanvanklik klink dit amper soos ’n welverdiende Desember-vakansie wat einde Maart aanbreek. Mens verwag dat die rolprent enige oomblik tot ’n einde gaan kom of dat jy gaan wakker skrik en besef dit was genadiglik net ’n nare droom. Dan kom mens tot die besef – dis realiteit, dis ’n harde werklikheid, ’n ongenaakbare tydperk, ’n koue angsgevoel wat die hart omklem. Covid-19 het ons wêreld soos ons dit geken het, totaal kom verander. Die finansiële impak van die inperking op die ekonomie, besighede en huishoudings is astronomies. Boonop was die Suid-Afrikaanse ekonomie en baie huishoudings reeds onder geweldige druk voor Covid-19 toegeslaan het. Almal beleef geweldige finansiële druk. Dit is tyd om ernstig te besin oor ons finansies en seker te maak die basiese beginsels word sover moontlik gevolg en ons beskik oor al die nodige en betroubare inligting om die beste moontlike besluite te neem gedurende hierdie tyd.

Oorsig en aspekte van persoonlike finansies

’n Paar basiese begrippe en beginsels om te hersien

BATES

Volgens Wikipedia is ’n bate ’n ekonomiese hulpbron. Die entiteit of persoon het beheer oor ’n bate en dit kan gebruik word om ekonomiese voordele te bekom. Die eenvoudige manier om bates te beskryf, is om te dink aan enigiets wat besit word. Bates sluit die volgende in: bankrekeninge met positiewe of kredietsaldo’s, beleggings, die huidige waarde van ’n uittreeannuïteit, eiendom, meubels, voertuie, toerusting, skilderye, ’n wynversameling, debiteure (waar mense jou geld skuld, bv. ’n lening aan ’n familielid) ens. Bates het ’n positiewe impak op jou persoonlike finansiële welstand en op dié van ’n besigheid. Die doel is altyd om bates te laat groei, veral bates wat inkomste genereer, byvoorbeeld beleggingseiendomme wat in waarde groei en huurinkomste voortbring, beleggings wat rente of dividende as opbrengs lewer of besighede wat winste lewer.

Bates kan verdeel word in likiede bates en nielikiede bates. Likiditeit beteken hoe vinnig ’n bate in kontant omskep kan word. Bankrekeninge en beleggings wat reeds in kontantvorm is, is dus die mees likiede bates. ’n Kennisdeposito of vaste deposito waar daar ’n kennisgewingtydperk of ’n sekere termyn by betrokke is, is minder likied as kontant in ’n bankrekening. Eiendom is ’n nielikiede bate omdat dit maande en soms meer as ’n jaar kan neem om dit te verkoop en sodoende in kontant om te skakel.

LASTE

Volgens Wikipedia is ’n las ’n ekonomiese verpligting. ’n Las word beskou as iets wat as gevolg van ’n vorige gebeurtenis ’n huidige verpligting skep wat tot gevolg sal hê dat daar ’n uitvloei van ekonomiese hulpbronne van die entiteit of persoon sal wees. Die eenvoudige manier om laste te beskryf, is om te dink aan enigiets wat aan iemand anders of ’n instansie (bank, finansieringshuis, kredietverskaffer, winkel, familielid ens.) geskuld word. Laste sluit die volgende in: huisverband, voertuigfinansiering, persoonlike lenings, oortrokke fasiliteite, kredietkaarte met ’n negatiewe of debietsaldo, winkelrekeninge, lenings van familielede, studentelenings ens. Laste het ’n negatiewe impak op jou persoonlike finansiële welstand of dié van ’n besigheid. Die doel is meestal om laste te vermy of so gou moontlik terug te betaal weens die rente wat op laste betaalbaar is.

Laste kan verder verdeel word in bedryfslaste (kort termyn) en niebedryfslaste (lang termyn). Laste wat binne ’n jaar terugbetaal moet word, word geklassifiseer as bedryfslaste of korttermynlaste. Korttermynlaste is tipies oortrokke fasiliteite, kredietkaarte, winkelrekeninge en persoonlike lenings. Laste wat oor ’n langer tydperk van meer as ’n jaar terugbetaal moet word, word geklassifiseer as niebedryfslaste of langtermynlaste. Langtermynlaste sluit in voertuigfinansiering en ’n huisverband. Korttermynlaste het tipies ’n hoër rentekoers en word as duurder skuld beskou. Daarteenoor het langtermynlaste laer rentekoerse en word as goedkoper skuld beskou.

NETTO BATEWAARDE

Netto batewaarde kan vergelyk word met die rekeningkundige basiese beginsel van eienaarsbelang wat op ’n balansstaat aangedui word. Eienaarsbelang word as volg bereken:

• Bates minus Laste = Ekwiteit / Eienaarsbelang / Netto Batewaarde

Volgens Wikipedia kan dit beskou word as die netto batewaarde van die entiteit wat die aandeelhouers toekom indien al die laste afgelos word.

Indien die maatskappy of besigheid se bates die laste oorskry, het die maatskappy ’n positiewe eienaarsbelang of ekwiteit. Positiewe eienaarsbelang is ’n gesonde beginsel en dui daarop dat die maatskappy solvent en welvarend is. Indien die maatskappy of besigheid se laste die bates oorskry, het die maatskappy ’n negatiewe eienaarsbelang of ekwiteit. Dit is ’n ongesonde posisie en ’n teken dat die maatskappy nie welvarend is nie, te veel skuld het en moontlik insolvent verklaar gaan word of sy deure moet sluit.

Dieselfde konsep en beginsels is van toepassing op persoonlike finansies.

• Persoonlike bates minus Persoonlike laste = Netto Batewaarde

Indien jou persoonlike bates jou laste oorskry, het jy ’n positiewe netto batewaarde. ’n Positiewe netto batewaarde is ’n gesonde beginsel en dui daarop dat jy solvent en welvarend is. Indien jou persoonlike laste jou bates oorskry, het jy ’n negatiewe netto batewaarde. Dit is ’n ongesonde posisie en ’n teken dat jy te veel skuld het en dringend aandag moet gee aan jou finansiële posisie.

Voorbeeld ter illustrasie


 

Voorbeeld 1 – Positiewe batewaarde
Bedrag

Voorbeeld 2 – Negatiewe batewaarde
Bedrag

Bates

 

 

Eiendom

R1 000 000

R1 000 000

Beleggings

R200 000

R0

Banksaldo

R20 000

R20 000

Meubels en juweliersware

R80 000

R80 000

Laste

 

 

Huislening

(R700 000)

(R950 000)

Kredietkaartskuld

(R0)

(R100 000)

Persoonlike lening

(R0)

(R200 000)

Bates minus Laste =
Netto Batewaarde

R600 000
Positief

(R150 000)
Negatief

PERSOONLIKE BEGROTING

'n Begroting is 'n baie waardevolle hulpbron vir besighede en individue. 'n Begroting is belangrik om inkomste en uitgawes te monitor en te bestuur asook om oorbesteding te identifiseer.
'n Begroting kan vergelyk word met 'n inkomstestaat.

• Inkomste minus Uitgawes = Surplus / Tekort

Wanneer inkomste die uitgawes oorskry, ontstaan daar ’n surplus (ook genoem ’n wins vir besighede). Dit is ’n gunstige posisie en ons moet streef daarna om die surplus te laat groei. Wanneer uitgawes die inkomste oorskry, ontstaan daar ’n tekort (ook genoem ’n verlies vir besighede). ’n Tekort is ’n ongunstige posisie en iets wat ons wil vermy. ’n Tekort dui op oorbesteding of dat inkomste nie die noodsaaklike uitgawes dek nie.

Stel ’n begroting op ’n maandelikse basis op vir ’n jaar vooruit. Inkomste en uitgawes gaan nie elke maand dieselfde wees nie. Neem jaarlikse verhogings, inflasie, rentekoersveranderings en eenmalige uitgawes (byvoorbeeld lisensiehernuwings of Kersgeskenke) in ag.

Voorbeeld ter illustrasie

 

Klassifikasie

Maand 1
Bedrag

Maand 2
Bedrag

Inkomste

 

 

 

Salaris / Besigheidsinkomste

Inkomste

R20 000

R20 000

Beleggingsinkomste

Inkomste

R500

R500

Uitgawes

 

 

 

Spaar vir vakansie

Spaar

(R2 000)

(R2 000)

Huisverband-paaiement

Noodsaaklike behoeftes

(R14 000)

(R14 000)

Water en elektrisiteit

Noodsaaklike behoeftes

(R2 000)

(R2 000)

Onthaal

Begeerte

(R2 000)

(R0)

Onvoorsiene uitgawes

Onvoorsiene uitgawes

(R1 000)

(R1 000)

Inkomste minus Uitgawes =
Surplus / Tekort

 

(R500)
Tekort

R1 500
Surplus

Noodsaaklike behoeftes teenoor begeertes

’n Begroting help ook om noodsaaklike behoeftes en begeertes te identifiseer en te bestuur. Noodsaaklike behoeftes dui op uitgawes waarsonder ons nie kan lewe nie. Noodsaaklike behoeftes sal huisvesting, voedsel, water en elektrisiteit, skoolgeld, vervoer, mediese uitgawes ens. insluit. Met begeertes word bedoel uitgawes wat as luukshede beskou word en wat ons nie nodig het om te oorleef nie. Begeertes sluit uitgawes soos fliek, uiteet, speelgoed, nuwe toestelle, skoonheidsbehandelings, vakansies ens. in.

Noodsaaklike behoeftes kan nie heeltemal uit ’n begroting gesny word nie. Ons kan wel kyk hoe om besparings op noodsaaklike uitgawes te verkry. Voorbeelde van moontlike besparings op noodsaaklike behoeftes:

  • Koop voedsel in groot maat aan en kyk uit vir spesiale aanbiedinge.
  • Oorweeg ’n saamryklub vir mense wat saam werk of by nabygeleë plekke werk of selfs om die kinders skool of aktiwiteite toe te vervoer om sodoende petrolgeld te bespaar.
  • Bespaar op die verbuik van water en elektrisiteit.

Begeertes kan sover moontlik verminder of selfs heeltemal uitgeskakel word. Wees kreatief en probeer om begeertes met ander goedkoper of gratis opsies te vervang. Voorbeelde van besparings op begeertes:

  • Hou ’n fliekaand by die huis met springmielies.
  • Kampeer in die tuin.
  • Vra elke familielid of vriend om hulle gunstelinggereg saam te bring om sodoende op onthaalkoste te bespaar.
  • Vermy om wegneemetes te bestel en maak as gesin saam kos by die huis.

Dit is belangrik om die beginsels van noodsaaklike behoeftes en begeertes ook vir kinders te leer. As daar nie nou geld is vir iets wat as ’n begeerte geklassifiseer word nie, moet daar gespaar word totdat die begeerte bekostig kan word. Dit is verder ook belangrik om nie skuld aan te gaan om vir begeertes te betaal nie.

Leefstylkoste en Inflasie

Weens inflasie neem leefstylkoste voortdurend toe. Inflasie word bereken op standaard items en neem dikwels nie die styging in prys op duurder en luukser items in ag nie. Wanneer jy jou persoonlike inflasiekoers bereken deur die styging op jou persoonlike uitgawes op ’n jaargrondslag uit te werk, sal jy meestal vind dat jou persoonlike inflasiekoers heelwat meer is as die landswye infasiekoers, veral in ag genome die styging in uitgawes soos mediese koste, brandstof, versekering, klere en voedsel. Die ander harde realiteit is dat salarisverhogings meestal nie tred hou met die werklike styging in persoonlike uitgawes nie. Sodoende word die gaping tussen inkomste en uitgawes relatief kleiner en loop dit later uit op ’n situasie waar skuld aangegaan moet word om lewenskoste te dra. Dit is ’n baie negatiewe situasie om in te wees aangesien die maalkolk van skuld net al hoe groter word en die inkomste nie genoeg is om die lewenskoste en die terugbetaling van die skuld te dek nie. Indien jy in hierdie posisie verkeer, moenie langer wag nie – vra hulp en soek ’n oplossing om die situasie te verbeter. Natuurlik is dit makliker gesê as gedaan. Ons weet egter waar daar ’n wil is, is daar altyd ’n weg. Neem ’n besluit en doen iets.

Daar is basies twee opsies om hierdie situasie te beveg. Eerstens, verminder uitgawes sover moontlik. Tweedens, kry ’n manier om addisionele inkomste te verkry.

Spaarplan

Met ’n spaarplan word bedoel ’n plan om aktief te spaar om ’n sekere doelwit te bereik. Daar is ’n verskil tussen spaar en belê. Spaar is wanneer geld gespaar word vir ’n spesifieke doel, byvoorbeeld om op vakansie te gaan of ’n nuwe TV te koop. Spaar het gewoonlik ’n korter termyn in gedagte, gewoonlik minder as ’n jaar. Daar kan wel spaardoelwitte wees wat oor ’n langer termyn strek, soos om vir ’n deposito vir ’n nuwe motor of huis te spaar of vir ’n kind se studies in die toekoms. Aangesien spaar korttermyn van aard is en met ’n spesifieke doelwit in gedagte, word meer likiede spaaropsies (kan vinnig omgesit word in kontant maar is verkieslik reeds in kontant) en opsies wat laer risiko inhou, gewoonlik aanbeveel. Goeie opsies vir spaardoelwitte sluit in kennisdeposito’s, vaste deposito’s en geldmarkfondse.

Met beleggings is die doel om welvaart te skep oor die langer termyn. Geld word dus weggesit om bates te koop wat oor die langer termyn groei en ’n opbrengs lewer. Effektetrusts, aandele en eiendom is tipiese voorbeelde van beleggings of bates wat kan groei en ’n opbrengs lewer in die vorm van rente, dividende en huurinkomste. Met beleggings is die ideaal om sowel likiede as nielikiede bates in die portefeulje te hou, asook bates met ’n lae, medium en hoë risikoprofiel om sodoende risiko te beperk maar ook maksimum opbrengs te verseker.

Dan is daar natuurlik ook spaarplanne spesifiek met die oog op aftrede. ’n Pensioenfonds, ’n voorsorgfonds en ’n bewaringsfonds asook uittreeannuïteite is opsies, hoewel baie mense ook eiendomme, besighede en oorsese beleggings as deel van hulle aftreespaarplan beskou.

Die ideaal is om spaar deel van jou begroting te maak. Sit elke maand ’n persentasie van jou inkomste weg. Dit is belangrik om spaargeld vanuit jou gewone daaglikse bankrekening oor te plaas na ’n spaar- of beleggingsrekening. As jy dit in jou bankrekening los, gaan jy in die versoeking kom om dit te gebruik vir iets anders wat jy moontlik nie nodig het nie en jy verdien ook minimum rente op jou daaglikse bankrekening. Teken ’n debietorder om jou spaargeld oor te plaas na jou spaarplan en beleggingsfondse. As dit outomaties gebeur, kom jy gou in die gewoonte om te spaar. Leer ook die gewoonte aan om enige surplusfondse in jou daaglikse bankrekening aan die einde van ’n maand oor te plaas na jou spaarrekening.

Noodfonds

’n Noodfonds is fondse wat beskikbaar is vir noodgevalle. Om op vakansie te gaan of ’n nuwe TV te koop, word nie as ’n noodgeval geklassifiseer nie. Groot mediese uitgawes waarvoor die mediese fonds nie betaal nie, ’n motor wat onklaar raak en nie deur ’n motorplan gedek word nie, ’n rekenaar wat nodig is vir werk of studies wat gesteel word, is alles voorbeelde van moontlike noodgevalle. Om ’n noodfonds te hê, in ’n land en tyd waar afleggings aan die orde van die dag is, is beslis van groot waarde. Die Covid-19-situasie, waar baie mense met minder of geen inkomste moet oorleef, word beslis as ’n noodgeval beskou en mense wat wel oor ’n noodfonds beskik, is waarskynlik die mense met die minste finansiële stres gedurende hierdie tyd.

Die goue reël is dat ’n noodfonds genoeg kontant moet bevat om drie tot ses maande se lewenskoste (noodsaaklike uitgawes sowel as skuldterugbetalings) te kan dek. Aangesien die fondse onmiddellik of baie gou beskikbaar moet wees in ’n noodgeval, word daar aanbeveel om ’n noodfonds in likiede opsies te hou waar daar nie ‘n kennisgewing of vaste beleggingstydperk vereis word nie. Die fondse moet ook verkieslik in spaarplanne met lae risiko gehou word. Indien jy fondse vanuit jou noodfonds vir ’n noodgeval moet gebruik, moet jy so gou moontlik daarna weer fondse terugplaas in die fonds vir toekomstige gebruik.

Hoe bestuur ek ’n finansiële krisis?

Weens die finansiële krisis waarin die meeste huishoudings hulle tans bevind en waarskynlik oor die volgende paar maande gaan bevind, is dit belangrik om te kyk na praktiese voorstelle wat kan help om hierdie krisis te oorleef.

Dit is sekerlik ’n tyd waartydens ’n warboel van emosies ervaar word. Daar is die goeie dae, die minder goeie dae en die baie slegte dae. Moenie tydens ’n krisis emosionele besluite neem nie. Wag ‘n dag of twee en probeer helder dink oor die situasie.

Moenie iets doen omdat almal dit skynbaar doen nie. As betaalvakansies vir skuld aan die orde van die dag is en die meeste van jou vriende dit doen, beteken dit nie dis ’n goeie opsie vir jou nie. Elke situasie is uniek en behoeftes verskil van mens tot mens en van huishouding tot huishouding. Neem goed ingeligte besluite volgens jou unieke situasie en behoefte. Verkry soveel moontlik inligting, maak seker die inligting kom van betroubare bronne en neem dan ’n besluit volgens wat die beste oplossing is vir jou. In baie gevalle help dit ook om berekeninge van die verskillende beskikbare opsies te maak en daarvolgens te besluit.

Hou jou bankstate in hierdie tyd dop om enige foute vroegtydig te identifiseer en te rapporteer. Daar is baie veranderinge wat tans plaasvind en dis gewoonlik wanneer foute maklik insluip. Maak seker dat jou debietorders steeds korrek afgaan. Maak seker dat waar ooreengekom is dat ’n verminderde bedrag of geen bedrag in hierdie tyd betaalbaar is, dit wel die geval is. Waar jy geskeduleerde betalings opgestel het en jy nou minder moet betaal of nie hoef te betaal nie, pas jou betaling dienooreenkomstig aan.

Verstaan jou inkomste en uitgawes

Verstaan jou inkomste en uitgawes. Werk deur jou bankstate vir die laaste paar maande asook enige kontantontvangste of betalings om werklike inkomste en uitgawes te verkry. Klassifiseer al die transaksies in die volgende kategoriëe:

  • Inkomste
  • Spaar / Beleggings
  • Noodsaaklike behoeftes
  • Begeertes
  • Onvoorsiene uitgawes

Indien jy reeds ’n goeie begroting het, hersien jou begroting en bring veranderinge aan gegewe jou huidige situasie.

Indien jy nie tans ’n begroting het nie, is dit baie belangrik in hierdie tyd om ’n begroting op te stel. ’n Begroting wat jy net in jou kop byhou, werk nie. Skryf dit neer, hou ’n spreitabel by of gebruik ‘n sagtewarepakket of applikasie.

Hoe lyk ’n effektiewe begroting?

Gebruik die werklike inkomste en uitgawes volgens jou bankstate van die afgelope paar maande as basis om jou begroting op te stel. Maak ook voorsiening vir moontlike veranderinge weens die inperkingstyd. Onthou, ’n effektiewe begroting sluit inkomste en uitgawes in. Jy wil nie net jou uitgawes daarteen monitor nie. Jy wil ook bepaal of jou inkomste jou uitgawes oorskry en of jy dalk oorbestee. Sluit die verskillende kategorieë in jou begroting in: inkomste, spaar / beleggings, noodsaaklike behoeftes, begeertes en onvoorsiene uitgawes.

Verminder uitgawes sover moontlik en pas jou leefstyl aan.

Kyk hoe kan jy besparings bewerkstellig op jou noodsaaklike behoeftes en skakel begeertes heeltemal uit of stel dit uit tot ’n later stadium. Voorbeelde waar uitgawes verminder kan word:

  • Maak seker daar is geen debietorders wat nog afgetrek word vir dienste wat nie meer gebruik word nie.
  • Kanselleer TV, tydskrifte en ander nienoodsaaklike subskripsies.
  • Maak kos tuis en vermy wegneemetes of gerieflikheidsmaaltye.
  • Skakel wegneemkoffie, sjokolade en ander lekkernye uit.
  • Vra jou bank vir ’n goedkoper bankkostepakket wat steeds aan jou behoeftes voldoen.
  • Kry ’n paar kwotasies vir versekering en vergelyk dit met mekaar. Maak seker jy vergelyk appels met appels en geniet steeds dieselfde dekking.
  • Wees kreatief met aktiwiteite om geld te bespaar, byvoorbeeld piekniek, gaan ry fiets saam as gesin, onthaal tuis.
  • Kyk uit vir goedkoper selfoon-, data- en internetpakkette,
  • Maak ’n inkopielys en hou daarby, moenie onnodige items koop nie.
  • Beplan inkopies beter sodat daar minder gereeld winkels toe gegaan word om sodoende ook op brandstof en parkering te bespaar.

In gevalle waar jy ’n uitgawe nie langer kan bybring nie of dit nie ’n noodsaaklike uitgawe is nie, tref vroegtydig reelings met die verskaffer en kanselleer debietorders waar nodig. Maak seker jy verstaan die kansellasievoorwaardes en ook of daar boetes of kennisgewingtydperke betrokke is.

Wanneer dit wel ’n noodsaaklike uitgawe of terugbetaling van skuld is, kontak die bank, versekeraar of verskaffer en tref ’n afbetalingsreëling. Dit is egter belangrik om die bepalings en voorwaardes te verstaan, asook die impak oor die langer termyn, sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.

Alhoewel spaar ’n noodsaaklikheid is vir jou finansiële welstand, is dit nie ’n noodsaaklikheid om ’n krisis te oorleef nie. Daarom kan jy dit oorweeg om jou spaarplanne tydelik te stop en die bydraes aan te wend om noodsaaklike uitgawes te betaal in hierdie tyd. In gevalle waar jy maandeliks ’n vaste kontraktuele bydrae maak, is dit raadsaam om navraag te doen wat die implikasie is as jy dit sou stop.

Bepaal jou netto batewaarde en stel vroegtydig vas as jou laste jou bates oorskry.

Dit is beter om vroegtydig regstellende stappe te begin doen as om te wag totdat dit te laat is. Indien jy dringend kontant benodig, is dit altyd beter om bestaande bates om te sit in kontant alvorens jy skuld aangaan. Indien jy addisionele beleggingseiendomme het, kan jy dit oorweeg om dit te verkoop of jou beleggings te onttrek. Weens die markte wat tans onder druk is, is daar ’n groot moontlikheid dat jy verliese gaan ly. Onthou ook om die belastingimpak in berekening te bring wanneer jy bates verkoop of beleggings onttrek.

Die rentekoersverlagings van een persentasiepunt elk in Maart 2020 en April 2020 bring welkome verligting vir almal wat enige vorm van skuld het, tensy hulle ’n vasterentekoersopsie het. In ’n krisistyd kan hierdie rentebesparings doeltreffend aangewend word om noodsaaklike uitgawes te betaal. Indien jy steeds in die posisie is om jou leefstylkoste te dek, word jy aangeraai om aan te hou om die hoër paaiement te betaal om sodoende jou uitstaande kapitaalbedrag te verminder en jou skuld gouer af te betaal. Nog ’n goeie opsie is om die rentebesparings te gebruik om ’n noodfonds te skep of jou bestaande fonds aan te vul as jy dit gedurende hierdie tyd gebruik het.

In gevalle waar jy verskeie vorme van skuld het, is dit raadsaam om die skuld met die hoogste rentekoers eerste af te betaal. Korttermyn-skuldopsies soos kredietkaarte, oortrokke fasiliteite en persoonlike lenings het meestal hoër rentekoerse en daarom sal dit goed wees om hierdie skuld so gou moontlik te delg. Wanneer jou uitstaande saldo op korttermyn-skuldopsies egter laag is, kan dit ’n beter opsie wees om enige addisionele fondse eerder aan te wend om die langtermyn-skuldopsies soos motorfinansiering of ’n huisverband met groot uitstaande saldo’s af te betaal.

Vermy dit om paaiemente op skuld laat te betaal, ’n verlaagde bedrag te betaal of glad nie te betaal nie. Laat betalings, verlaagde paaiemente of paaiemente wat oorgeslaan word, het nie net ’n rente- en moontlike boete-impak nie, maar affekteer ook jou kredietrekord negatief. ’n Negatiewe kredietrekord sal veroorsaak dat jy in die toekoms moontlik nie weer vir skuld sal kwalifiseer nie of baie hoër rentekoerse moet betaal. Tref vroegtydig reëlings wanneer jy nie jou volle paaiemente kan bybring nie.

Heronderhandel jou bestaande rentekoerse op jou skuld.

Indien jy ’n goeie betaler is, sal banke, finansieringshuise ens. dalk meer toegeeflik wees in hierdie tyd om rentekoerse afwaarts aan te pas. Selfs ’n 0,25%-verlaging in jou bestaande rentekoers kan ’n groot verskil maak oor die langer termyn.

In gevalle waar jy verskillende skuldopsies het, kan jy dit oorweeg om jou skuld te konsolideer in ’n opsie wat die laagste rentekoers bied. Jy kan dit ook oorweeg om ander skuldopsies oor te dra na een van jou bestaande skuldopsies wat ’n laer koers bied. Verder kan jy jou bank raadpleeg oor ’n alternatiewe opsie wat ’n laer rentekoers bied en waarin jy jou ander skuldopsies kan konsolideer.

Kredietkaarte en winkelrekeninge is van die grootste euwels as dit by skuld kom. Nie net is dit duur skuld nie, maar dis ook maklik om net ’n kaart uit te haal en te betaal vir iets wat heel moontlik nie ’n noodsaaklikheid is nie. Sny jou kaarte op en leer die gewoonte aan om te spaar vir ’n item totdat jy dit kontant kan koop.

Skakel met jou voertuigfinansierders en heronderhandel jou bepalings vir terugbetaling. Maak seker jy verstaan die volle impak oor die langer termyn.

Skakel met die bank of ander finansiële instelling waar jou huisverband geregistreer is en vind uit van enige betaalvakansies of afslag wat gedurende die inperkingstyd van toepassing is. Betaalvakansies is ’n spesiale vergunning waar jy vir ’n tydperk, gewoonlik drie of vier maande, nie paaiemente hoef te betaal nie. Neem in ag dat rente en fooie tydens betaalvakansies steeds gehef word en gekapitaliseer word. Gevolglik sal jy ‘n hoër uitstaande kapitaalbedrag hê na afloop van die betaalvakansie en jou paaiemente en rentekomponent sal dus voortaan hoër wees.

In uiterste omstandighede waar daar geen ander opsie is nie, oorweeg skuldberading. Hersien jou versekeringsprodukte en aftreebeplanning op ’n gereelde basis. Kontak jou adviseur om opsies vir tydelike verligting met betrekking tot die betaling van premies of bydraes te bespreek. Maak seker jy verstaan die volle impak asook die bepalings en voorwaardes. Bou ’n noodfonds op as jy nie reeds ’n fonds het nie. Indien jy onttrekkings uit jou noodfonds moet doen gedurende hierdie tyd, plaas die fondse so gou moontlik daarna weer terug.

Maniere om jou noodfonds op te bou:

Begroot elke maand vir onvoorsiene uitgawes. In die maande wanneer niks onvoorsiens gebeur nie, dra die besparing oor na jou noodfonds.

Plaas besparings as gevolg van die rentekoersverlagings oor na jou noodfonds. Bly weg van hoërisikobeleggings in krisistye tensy jy spaargeld het wat jy nie nodig gaan hê nie en gemaklik is om dit te verloor. Verstaan die volle bepalings en risiko verbonde aan ’n belegging voordat jy daarop besluit. Daar is sekerlik in krisistye ook baie geleenthede om goeie geld te maak vir beleggers wat addisionele fondse beskikbaar het. Moet egter nie jou swaar verdiende geld in onseker tye aan onnodige risiko blootstel omdat jy desperaat is om geld te maak nie. Daar is geen “word ryk in ’n oogwink”-belegging nie en baie mense word in moeilike tye deur slenterstreke gevang.

Daar is baie goeie finansiële beginsels wat kan help om verligting te bring in krisistye, maar die beste raad is beslis om te probeer om ’n addisionele inkomstebron te skep. Dit is soms makliker gesê as gedaan en omstandighede asook ’n gebrek aan tyd, geld, idees, ervaring en kennis kan geldige redes wees wat jou weerhou. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg en enigiemand wat regtig wil, sal ’n plan kan maak, selfs al begin jy met iets kleins. Dit sal groei en jy sal nooit spyt wees jy het die besluit geneem nie. Selfs met die huidige pandemie buite rekening gelaat, is Suid-Afrika ’n land met ’n onstabiele ekonomie en ’n hoë werkloosheidsyfer. Of ons dit wil glo of hoor, maak nie saak nie maar enigiemand kan sy of haar werk enige tyd verloor. Ons kan nie die risiko loop om van net een inkomstebron afhanklik te wees nie.

Voorbeelde om te oorweeg waar min of geen aanvanklike kapitaalbesteding nodig is:

  • Kry ’n deeltydse werk oor naweke of saans.
  • Verhuur ’n spaarkamer.
  • Begin ’n besigheid in jou vrye tyd of ’n tweede besigheid as jy reeds een besigheid het.
  • Netwerkbemarking werk baie goed as inkomstebron vir talle mense.
  • Verwys mense uit jou netwerk na ander besighede en vra ’n verwysingsfooi.
  • Span jou stokperdjie in om geld te maak – neem foto’s vir vriende, bak koeke vir kollegas, maak tuisgekookte maaltye vir werkende mense, verkoop jou handewerk.
  • Pas ander mense se huise of troeteldiere op of doen inkopies vir ander.
  • As jy hou van skryf, begin ’n webjoernaal. Leer mense ’n nuwe vaardigheid of deel jou kennis met ander op YouTube of deur middel van ’n aanlynkursus.
  • Verkoop produkte aanlyn.

Grootskaalse afleggings word voorspel deur kenners en alhoewel niemand graag ’n doemprofeet wil wees nie, is dit beter om voorbereid te wees sou so iets oor jou pad kom. Sorg dus dat jou CV bygewerk is sodat jy dit so gou moontlik kan uitstuur indien so iets gebeur. Wees proaktief, doen navorsing en kyk uit vir ander moontlike geleenthede wat jy dalk kan oorweeg in die toekoms.

Die belangrikste raad bly steeds:

Onderhou jou bates, jou gesondheid en jou geloof. Beskerm jou bates, doen moeite met jou finansiële welstand en skerp jou finansiële kennis op. Leef gesond – eet gesond, oefen gereeld, drink vitamines om jou immuunstelsel te versterk en slaap genoeg. Finansiële stres en onsekerheid werk baie nadelig in op jou gesondheid. Heel belangrikste, behou jou geloof. Vertrou op God om jou deur hierdie moeilike tyd te dra, want net Hy kan.

1.1. HOEKOM IS MY WERK EN INKOMSTE SO BELANGRIK?

Om ’n werk en inkomste te hê, voorsien in ons daaglikse primêre behoeftes. Dit is in groot mate die spilpunt waarom ons lewens draai, in ag genome hoeveel tyd van ons lewens ons aan werk bestee. Om te kan werk en ’n inkomste te verdien, het egter ’n groter en verrykende impak op ons alledaagse bestaan, sekondêre behoeftes en welstand.

  • Professionele identiteit – vir baie mense definieer hulle beroep hulle menswees in groot mate. Dis iets waarvoor jy lank en hard gewerk en waarskynlik studeer het.
  • Selfvertroue – dit laat ons waardig voel.
  • Roetine – soos met kinders is roetine in baie gevalle noodsaaklik vir sukses.
  • Doelgerigtheid – jou loopbaan en werk laat jou voel dat jy iewers heen op pad is en ’n doel kan nastreef.
  • Sosiale netwerk – ons almal het ’n behoefte aan interaksie en om sosiaal te verkeer, ook in ’n werkomgewing.
  • Bemarkbaarheid – jou ervaring, kennis en vaardighede maak weer ander deure oop.
  • Finansiële sekuriteit – werk verskaf vir die meeste mense hulle primêre bron van inkomste, en inkomste is noodsaaklik om te oorleef. ’n Werk en inkomste laat mense finansieel veilig voel.

Verwysing/Voorbeeld

1.2. GEVALLESTUDIE: RIGLYNE EN RAAD VIR SPESIFIEKE VRAE

Spesifieke scenario’s kan deur advies en riglyne aangebied word ter verduideliking. As ’n riglyn kan die volgende vrae as voorbeeld beantwoord word:

Ek het my werk verloor en daarmee saam my gesin se grootste en/of enigste bron van inkomste, wat moet ek maak om finansieel te oorleef?

’n Harde realiteit vir baie! Oorweeg al die opsies van moontlike uitbetalings in so ’n geval – afleggingspakket, onbetaalde verlof, werkloosheidversekering, pensioen of voorsorgfonds. Die eerste stap is om sorgvuldig deur al jou uitgawes te gaan en ’n lys daarvan te maak. As jy ’n volledige begroting het, kan jy jou begroting gebruik om die uitgawes te ondersoek. Identifiseer die uitgawes wat absoluut noodsaaklik is om te oorleef – huisvesting, voedsel ens.

Kan jy enige verdere besparings bewerkstellig op die absoluut noodsaaklike uitgawes?

Skakel die ander uitgawes uit wat nie absoluut noodsaaklik is nie. Waar jy ’n kontraktuele verpligting het om maandelikse paaiemente, premies, bydraes of fooie te betaal, byvoorbeeld mediese fonds, versekering, uittreeannuïteite, kontak die betrokke instansies en doen navraag oor die opsies wat hulle kan bied vir tydelike verligting, betaalvakansies, verminderde bedrae ens. Vra uit oor hoe dit jou dekking tydens hierdie tydperk sowel as op die lange duur gaan beïnvloed. Dieselfde geld vir alle skuld wat jy het – huisverband, motorfinansiering, oortrokke fasiliteite, persoonlike lenings, kredietkaarte ens. Moenie hierdie tipe betalings net stop sonder om ’n reëling met die betrokke instansie te tref nie, om jouself te beskerm. Stuur jou CV uit na soveel moontlik personeelagentskappe, maatskappye, netwerke en ook op sosialemediagroepe. Met die groter impak van die inperkingstyd op die ekonomie en besighede gaan dit waarskynlik moeilik wees om gou weer ander werk te kry.

Wat anders kan jy doen om inkomste te verdien? Kan jy ’n stokperdjie gebruik om geld te verdien?

Watse behoeftes sien jy raak waarmee jy ander mense kan help? Het jy vaardighede wat jy vir ander mense kan leer of jou eie besigheid mee kan begin? Hierdie is beslis ’n tyd om uit die boks te dink en enigiets moontlik te probeer om die krisis te oorleef.

My salaris is heelwat verminder, wat is goeie riglyne om my finansies steeds te laat klop?

Werk krities deur jou uitgawes – kyk hoe kan jy besparings op die noodsaaklike uitgawes bewerkstellig en skakel die nienoodsaaklike uitgawes uit. Tref reëlings met jou bank, kredietverskaffer, versekeraar, mediese fonds ens. vir tydelike verligting. Vra jou werkgewer of daar opsies is om jou salarispakket te herstruktureer – indien jy maandeliks geld wegsit as deel van ’n spaarskema of 13de tjek (bonus) kan dit moontlik uitbetaal word, moontlikheid van premieverligting op groepsdekking, verlaging van jou pensioen- of voorsorgfondsbydraes.

Ek het eenvoudig te veel skuld, wat is tot my beskikking om dit die hoof te bied?

Verander jou ingesteldheid deur te sê as ek nie iets kontant kan koop nie, dan spaar ek totdat ek dit kan bekostig. Moenie skuld aangaan om onnodige items of luukshede te koop nie. Stel ’n haalbare begroting op en hou daarby. Moenie meer bestee as wat jy verdien nie. Met skuld wil jy poog om meer as die minimum paaiement verskuldig te betaal. Sodoende sal jy ’n groter allokasie na jou kapitaal hê wat jou uitstaande saldo en rentekomponent sal laat afneem en jy gouer die skuld kan afbetaal. Met die rentekoersverlaging van twee persentasiepunte wat in Maart en April aangekondig is, sal jy ’n besparing op paaiemente sien deurkom vir alle skuld waar jy ‘n veranderlike rentekoersopsie het. Indien moontlik, hou vol om die verhoogde paaiement te betaal. As jy geld oor het aan die einde van die maand, betaal dit af op jou skuld. As jy enige addisionele kontant inkry, betaal dit af op jou skuld. Neem ’n besluit om sekere maandelikse uitgawes te verminder en die bedrag in jou begroting op jou skuld te betaal. Oorweeg dit om jou skuld te konsolideer in ’n opsie wat die laagste rentekoers bied. Vervang dus skuld met hoër rentekoerse deur skuld met laer rentekoerse. As ’n laaste opsie, oorweeg skuldberading.

Ek het dadelik kontant nodig, hoe kan ek dit bymekaar kry sonder om my finansiële situasie te vererger op die lang termyn?

Beperk jou uitgawes tot die absolute minimum en kontak jou bank, versekeraar, mediese fonds, motorfinansieringshuis ens. om premieverligting, betaalvakansies en ander opsies te bespreek. Het jy beleggings wat jy kan losmaak? Kan familie of vriende help met ’n lening? Kan jy jou motor verkoop en ’n goedkoper motor koop? Is daar huishoudelike items wat jy kan verkoop? Kan jy geld leen teen jou huisverband?

Wat is die gevolge van geld uit my pensioenfonds neem?

Dit is altyd die eerste prys om jou aftreefondse onaangeraak te laat. Navorsing wys dat minder as 3% van die bevolking kan aftree sonder om hulle lewenstandaard drasties af te skaal. Die grootste knelpunt is dat hoe minder jy wegsit vir aftrede, hoe minder fondse gaan jy hê om van te leef op jou oudag. Indien jy ook ander bates, byvoorbeeld beleggingseiendomme of besighede, het om jou aftreeportefeulje aan te vul, sal dit die besluit om geld uit jou pensioenfonds te neem, minder riskant maak. Daar word wel voorsiening gemaak vir betaalvakansies waar jy vir ’n tydperk nie bydraes hoef te betaal nie of om jou bydrae te verminder.
Dit is egter belangrik om die impak ten volle te verstaan, ook die belastingimplikasies, en seker te maak boetes word nie gehef nie sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem.

Moet ek ‘n verbandlening probeer aangaan om likied te bly gegewe die lae rentekoers?

As jy geen ander opsie het as om skuld aan te gaan nie, is ’n verbandlening sekerlik die kostedoeltreffendste opsie. Huisverbande bied meestal die laagste rentekoers en dit kan die beste opsie tans wees indien jy kan kwalifiseer vir ’n tweede verband of om van die beskikbare oorskot kapitaal wat jy reeds terugbetaal het, weer te leen. Wees egter bewus van die risiko wat met ’n verbandlening gepaardgaan – as jy nie die paaiemente kan volhou in die toekoms nie, is daar ’n moontlikheid dat jou huis teruggeneem kan word.

Wat is die beste kredietoplossing?

Met enige vorm van krediet wil jy so min moontlik rente betaal. Daarom is rentevrye lenings of winkelkaarte of kredietkaarte wat byvoorbeeld ’n 55 dae rentevrye opsie bied indien jy die paaiemente voor die betaaldatum betaal, altyd die beste opsie. Andersins, gebruik rentekoerse as jou oorweging. Kyk na verskillende opsies by verskillende instansies voordat jy besluit – ’n 0,25% goedkoper opsie kan ’n groot verskil maak. Huisverbande bied meestal die laagste rentekoerse en dit kan nou die beste opsie wees indien jy kan kwalifiseer vir ’n tweede verband of om van die beskikbare oorskot kapitaal wat jy reeds terugbetaal het, weer te leen. Wees bedag vir slenterstreke in hierdie tyd en bly by geregistreerde finansiële instansies.

Kan julle vir my basiese uitgawes prioritiseer, wat hou ek eerste op betaal indien ek moet?

Gaan soek eerste vir enige debietorders wat steeds moontlik afgaan vir dienste wat jy nie meer gebruik nie, selfs al is dit ‘n baie klein bedrag, en kanselleer dit. Skakel eerste die uitgawes uit wat nie noodsaaklik is vir oorlewing nie, byvoorbeeld:

  • Subskripsies – TV, tydskrifte, gimnasium, sportklubs, boekklubs ens.
  • Skoonheidsbehandelings, haarkapperuitgawes en ander persoonlike benodigdhede
  • Wegneemkoffie, kitskosetes, lekkernye, onthaal en vermaak
  • Addisionele selfoonpakkette en internetpakkette wat nie gebruik word nie

Ten opsigte van enige uitgawes of skuld waar daar ’n kontraktuele verpligting is – kontak die betrokke instansie en tref reëlings vir verligting. Maak egter seker jy onderhandel met die instansie oor hierdie tipe betalings en moenie net ophou betaal nie.

Ek het aandele maar die mark het sleg gedaal, moet ek verkoop as ek kontant nodig het?

Die goue reël met beleggings en spesifiek aandele is om jou belegging net so te los wanneer markte daal, want die mark sal weer herstel en die pryse sal styg. Wanneer aandele verkoop word in ’n tyd wanneer markte baie gedaal het, is die waarskynlikheid groot dat jy ’n verlies op jou belegging gaan ly. Indien jy egter dringend kontant nodig het en geen ander opsie het nie, is dit wel ’n beter opsie om beleggings los te maak, byvoorbeeld aandele te verkoop, as om skuld aan te gaan om kop bo water te hou, of andersins die aangaan van skuld sover moontlik uit te stel. Neem net in ag dat, afhangende van wat die aandeelprys was toe jy die aandele gekoop het en wat die prys is wanneer jy verkoop, daar ’n belastingimplikasie kan wees as jy wins gemaak het, waarvoor jy voorsiening sal moet maak.

OOR JOU GELD

Finansies: Wees versigtig vir Swart Vrydag


Deur Reon Janse van Rensburg Swart Vrydag word die afgelope paar jaar gekenmerk deur verbruikers wat inderhaas, sonder om te dink na die naaste groothandelaar jaag om tydens Swart Vrydag aankope te maak waar daar onder andere luukse en verskeie ander items teen beter of sogenaamde winskopies aangebied word. Vorige...

Lees meer >

FINANSIËLE DIENSTE

AFTREEBEPLANNING
Onlangse navorsing toon dat slegs 4 uit elke 100 professionele persone eendag onafhanklik sal kan aftree. Is jou huidige aftree-annuïteit voldoende? Hoe kan jy bykomende voorsiening vir jou goue jare maak? Solidariteit Finansiële Dienste bied uitstekende advies wat jou sal help om voor- siening te maak vir jou en jou geliefdes se unieke behoeftes.
Klik hier om meer uit te vind.
LEWENSVERSEKERING:
INKOMSTEBESKERMING,
ONGESKIKTHEIDSDEKKING
Niemand wil graag daaraan dink nie, maar die realiteit is dat enige een van ons enige dag, minuut of sekonde deur die noodlot getref kan word. Daarom moet jy, voordat jy enigsins daaraan kan dink om te spaar of te belê, sorg dat jou huidige inkomste beskerm is.
Klik hier om meer uit te vind.
KORTTERMYNVERSEKERING
Wat betaal jy maandeliks aan motor- en huisinhoudsverskering? Is jy tevrede met jou huidige diensverskaffer se diens en voordele? Is jy onseker of jy voldoende dekking sal geniet sou een van jou waardevolle besittings gesteel of beskadig word? Laat ons jou huidige versekeringsprofiel hersien en spaar só hope tyd, geld en moeite!
Klik hier om meer uit te vind.
BELEGGINGSADVIES EN
HERSIENING VAN U BESTAANDE
PORTEFEULJE
Wonder jy of jy maar daardie huisie by die see moet koop, en of jy eerder ’n ekstra paar Rand moet belê? Indien wel, waar en hoe moet jy jou geld belê? Solidariteit Finansiële Dienste bied lede uitstekende, professionele en deeglik nagevorste beleggingsadvies.
Klik hier om meer uit te vind.

SKULDBERADING

Die finansiële welsyn van ons lede is vir Solidariteit baie belangrik
Om produktief te kan werk en gelukkig te kan leef, is finansiële welsyn uiters belangrik. Daarom het Solidariteit besluit om ’n splinternuwe ledevoordeel te ontwikkel saam met ons vennote, Serfontein Viljoen en Swart Prokureurs en DebtGrip.

Die span van toegewyde personeel het jarelange ervaring van die administrasie van skuld en skuldberading. Jou skuld word bestuur deur ’n geregistreerde skuldberader by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR).

Klik hier om ons gratis skuldberading sakrekenaar te gebruik

TESTAMENTE

GRATIS VIR SOLIDARITEIT-LEDE
Een van die vele dienste wat Solidariteit bied, is die opstel van 'n testament (as jy sou belangstel in hierdie diens), sowel as die hantering van jou boedel by afsterwe.

E-pos: fineks@wvs.co.za
Faks: 086 639 1999
Skakel ons vir meer inligting: 012 362 1552.

Klik hier om die versoekvorm af te laai

MOTOR-KOOP

MOTOR FINANSIERING
WAT SAL ‘N NUWE MOTOR MY KOS?

Al is dit opwindend om ‘n motor te koop of verkoop, is dit vir party mense ‘n geweldig traumatiese ervaring. Vrae soos watter model mens moet kies, hoe die finansiering werk en die papierwerk verbonde aan ‘n transaksie, maak dit vir baie mense moeilik. Solidariteit Finansiële Dienste gaan poog om met die inligting in hierdie afdeling die las van jou skouers af te haal.

Klik hier om te bereken wat die nuwe motor u sal kos.

AANWYSERS

DAAGLIKSE AANWYSERS

VRA & ANTWOORDE

Mag ek weet waarom my huuraansoek geweier is?

Ja, redes vir die afkeur van jou aansoek om te huur mag jou kredietprofiel, bekostigbaarheid of geskiktheid soos “geen troeteldiere toegelaat in die kompleks” insluit.   Jou aansoek mag nie geweier word gebaseer op die gronde van ras, geslag, swangerskap, huwelikstaat, seksuele oriëntasie, etniese of sosiale oorsprong, kleur, ouderdom, gestremdheid,...

Lees meer


Huis koop: Hoekom kry koper die oordragkoste en verkoper kies die prokureur?

Vraag: “Ek is besig om my eerste eiendom te koop. Ek is nogal gespanne oor alles en ’n vriendin van my wat ’n aktebesorger is het gesê sy sal my met die transaksie help. Die verkoper weier egter en dring daarop aan dat sy prokureurs die oordrag hanteer. As ek...

Lees meer


Deeltitel: Wat om aan onnodige spesiale heffings te doen

Vraag   Wat kan mens doen in verband met onnodige spesiale heffings? Wat maak ’n noodgeval uit wat die oplê van ’n spesiale heffing regverdig en watter verhaal het die eienaars as die trustees ’n spesiale heffing oplê vir uitgawes wat nie as ’n noodgeval beskou word nie?   Antwoord  ...

Lees meer


Die poliskontrak vir my lewens- en ongeskiktheidsdekking is baie lank en ingewikkeld. Waarna moet ek spesifiek kyk?

Die premiepatroon, met ander woorde, hoe vinnig jou premie sal opgaan en of dit aan iets spesifiek (byvoorbeeld, mediesefondseise, inflasie of oefenpatrone) gekoppel is. Of jy sekere vereistes jaarliks moet nakom om jou voordele te behou. Watter, indien enige, uitsluitings of voorwaardes aan die polis gekoppel is. Of onderskywing tydens...

Lees meer


My grootste risiko is as ek nooit weer kan werk nie. Wat kan ek doen om my teen hierdie risiko te beskerm?

Die eenvoudigste manier om jou teen hierdie risiko te beskerm, is om ongeskiktheidsdekking deur ’n groot versekeraar uit te neem. Die onderskeie versekeraars se produkte verskil ietwat van mekaar en dit is belangrik om presies te weet waarvoor jy ’n geldige eis sal hê en waarvoor nie. Oorhoofs kry mens...

Lees meer


Hoekom het ’n mens lewensdekking nodig?

Die antwoord op hierdie vraag sal van persoon tot persoon verskil. Jy moet vir jouself die vraag vra: “As ek more tot sterwe kom, watter finansiële implikasies sal dit hê vir die mense wat ek agterlaat?” Die antwoord hierop kan wees: Om skuld af te betaal; om vir my gade...

Lees meer


Hoe gereeld moet ek my finansiële situasie ondersoek?

Jy moet ten minste een keer per jaar ’n omvattende finansiële analise deur ’n finansiële deskundige laat doen. Vind uit of jou risikodekking (lewensversekering, en dies meer) nog voldoende is ten opsigte van jou behoeftes en risiko’s; of jou belegging nog in die regte fondse belê is volgens jou behoefte;...

Lees meer


Wat is die belangrikste aspek van my persoonlike finansiële beplanning?

Jou begroting.
Waar is die beste plek om my geld te belê?

Hierdie vraag se antwoord sal vir elke individu verskil omdat elke individu se behoeftes anders is. Die beleggingswêreld bied ’n groot verskeidenheid van beleggingsopsies en bateklasse wat party mense verwarrend kan vind. Bateklasse, soos aandele (plaaslik en buitelands), staatseffekte, geldmarkinstrumente en eiendom, genereer opbrengste vir die belegger op verskillende maniere...

Lees meer


Wat maak Solidariteit Finansiële Dienste anders?

Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) is ’n geregistreerde finansiëlediensteverskaffer wat beide Solidariteit-lede en nielede van onafhanklike en eerlike finansiële advies bedien. SFD het gesertifiseerde finansiële adviseurs wat spesialiseer in: beleggings; aftreebeplanning; die hantering van afleggings/bedankings; lewens- en ongeskiktheidsversekering; belastingbeplanning vir individue; en basiese boedelbeplanning. SFD se diens is advies-gedrewe en nie...

Lees meer


Wat is die verskil tussen ’n pensioenfonds, voorsorgfonds (provident fund) en uittreeannuïteit?

’n Pensioenfonds, voorsorgfonds en uittreeannuïteit (UA) is al drie spaarvoertuie vir aftrede en word deur die Wet op Pensioenfondse (No. 24 van 1956) gereguleer. Iemand kan slegs deur sy of haar werkgewer aan ’n pensioenfonds of voorsorgfonds behoort. ’n Pensioenfondslid se bydraes is belastingaftrekbaar (sekere limiete is van toepassing) en...

Lees meer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close